|
ENGELSE TAALINVLOED Daar is Afrikaners wat meen dat Engels veel dieper spore op Nederlands laat as op Afrikaans. Sinne maak 'n taal en nie woorde en nie. Bekyk die volgende: is maak per want en ek boom spring wanneer dag waarheid. Suiwer Afrikaans, maar moeilik verstaanbaar. Dit is woorde. Woorde is die stene waarmee ons 'n taal bou. Wanneer ek 'n hoop stene opmekaar gooi het ek nog geen huis nie. Wanneer ek 'n hoop woorde op 'n hoop gooi het ek geen taal nie. Ek moet die stene netjies agtermekaar inpak en dan kry ek pas 'n huis. As jy die woorde netjies agtermekaar inpak kry jy taal. Die boustyl bepaal wat voor huis jy kry. Wanneer ek 'n mooi huis staan en bewonder sien ek sy styl en nie sy stene nie. Die Nederlander bou 'n Nederlandse huis, met 'n paar Engelse stene daartussen, want hy hou sy sinsbou in stand. Sy huis bly Nederlands. Die Afrikaner bou wel sy huis van Afrikaanse stene, maar die boustyl is 'n Engelse styl, want sy sinsbou word oor Engels geplooi. Hy bou 'n Engelse huis. Nederlands word maar aan die buitekantjies deur Engels geraak. Afrikaans word in die hart getref deur Engels. Wanneer Afrikaners meen dat daar in Nederlands meer Engels sit as in Afrikaans, vergelyk hulle die twee kultuurtale. Wanneer 'n mens 'n sinvolle vergelyking wil doen moet 'n mens die hoeveelheid Engels in die Afrikaanse omgangstaal plus die in die kultuurtaal bymekaar reken en dit dan vergelyk met die in die Nederlandse omgangs- en kultuurtaal. Ons Afrikaanse omgangstaal word met Engels deurspek, maar word Engels aktief (of selfs dwangmatig) uit die Afrikaanse kultuurtaal geweer. In Nederlands gebeur dit nie en sit daar ewe veel (of weinig) Engels in die kultuurtaal as wat daar in die omgangstaal sit. Maar ontlening is 'n bekende taalverskynsel. Nederlands het ook nie 10 of 20 jaar begin leen nie. Hy het dit nog altyd gedoen. 'n Deel van ons leksikon het 'n Romaanse oorsprong.
|