Herkoms van Afrikaans
Die herkoms van die Afrikaanse omgangstaal:
Aan die Kaap het nuwe omgangstale verrys soos oral ter wêreld gebeur het.
Uiteraard het taalkontak 'n rol gespeel asook isolasie (afstand tussen
die Kaap en Nederland), maar nog twee aspekte het ook 'n rol gespeel:
Nederlandse dialeksprekers het na die Kaap verhuis en nie
standaardtaalsprekers nie. Daar moes 'n proses van gelykmaking tussen die
dialekte afgespeel het - behoud van taalgoed wat ook in ander dialekte
voorkom en weglating van dit wat in die ander dialekte ongebruiklik was. Ten
tweede was daar ook 'n proses van taalvereenvoudiging.
Afrikaans is immers gewoon vereenvoudigde Nederlands. Hierdie proses is en
was nie uniek aan Suid-Afrika en Afrikaans nie. Brasiliaanse Portugees is
eenvoudiger as Europese Portugees en Quebecse Frans is eenvoudiger as
Europese Frans. Taalvereenvoudiging kom immers ook voor
by laaggeskoolde en ekonomies agtergestelde groepe, hetsy in die slopwyke
van stede, hetsy op die uitgetrekte platteland. Die taalkode van hierdie
groepe is altyd armer en eenvoudiger as die van die stedelike elite. In
hierdie teelaarde aan die Kaap, het nuwe Nederlandse (Afrikaanse)
omgangstale verrys. 'n Nuwe omgangstaal hoef nie te lei tot 'n nuwe
kultuurtaal nie.
Die herkoms van die Afrikaanse kultuurtaal:
Vanaf 1652 was Nederlands die algemene kultuurtaal van die Afrikaner. Dit
was die taal van sy godsdiensbeoefening. Predikante het Nederlands beheers.
Dit was die taal van Afrikanerskole. Gehore het 'n eeu gelede nog uitgebars
van die lag wanneer die spreker genoem het dat Afrikaans gebruik sou kon
word as medium van onderrig. Dit was die taal van die pers. Boeke was in
Nederlands gedruk en Nederlandstalige blaaie het uit die pers gerol soos:
Ons Land, De Volkstem, De Vereniging, De Vriend Weekblad, De Unie, De
Burger, Het Volksblad, De Huisgenoot, De Zuid-Afrikaan, Cradocksche
Afrikaner, De Volksbode, Gereformeerde Maandblad, De Gereformeerde Kerkbode,
Ons Vaderland, De Spectator, De Vriend des Volks, Ons Tijdschrift, ens.
Nederlands was die taal van die Afrikanerpolitiek. Die notules van die
Nationale Party was in Nederlands gehou. Die Nationale Party (Natte) sou
later die Nasionale Party geword het. In 1916 het die voorsitter van die
hoofbestuur van die Nationale party, naamlik J.B.M. Hertzog gedreig om te
bedank as daar aangedring word om Afrikaans in die plek van Nederlands te
gebruik. Volgens Hertzog het hy Afrikaans nie goed beheers nie en was
Nederlands immers die amptelike taal. Die volksliedere van die Oranje
Vrijstaan en die Zuid-Afrikaansche Republiek was in Nederlands. 'n Eeu
gelede was Afrikaans beskou as simbool van ongeleerdheid. Die geskoolde
Afrikanerelite was voorstaanders van die behoud van Nederlands as ons
kultuurtaal. Baie Afrikaners het Nederlands vlot beheers. Hoe hoër die
skoling hoe beter die taalbeheersing.
Pas na Uniewording sou daar al
meer stemme opgegaan het vir die erkenning van 'n eie inheemse taal. Die
voorstaanders vir hierdie idee moes 'n reeds bestaande omgangsvariëteit
uitkies vir die uitbou van die nuwe taal. Die keuse het geval op
Boere-Afrikaans. Heere-Afrikaans (Hooghollands) was deur hierdie groep mense
verwerp as 'n variëteit wat nie inheems genoeg was nie. Die ander Afrikaanse
omgangsvariëteite is eweneeens verwerp.
Die nuwe kultuurtaal is vir 'n groot stuk op despotiese wyse
rondom 'n tafel gemaak. Wat alles uit Nederlands gehaal moes word en onder
Afrikaans staangemaak moes word, het tot vurige diskussies en debatte gelei
onder die Afrikaners, waar die
taalmakers hulle weinig aan gesteur het. Baie Afrikaners het byvoorbeeld nog
wij in die nominatief gebruik en ons in die akkusatief. Baie
Afrikaners het nog die demonstratiewe dese, dees, (duskant), die, dit
en dat gebruik in plaas van die huidige hierdie en daardie.
Baie Afrikaners het die infinitief gebruik (bv, om te skrywe, te
sage, te make, ens). Baie Afrikaners het ook die betreklike voornaamwoord die
(en ook dat)
gebruik in plaas van die huidige wat (bv, die man die siek
is). Baie Afrikaners het
die dubbelontkenning nie gebruik nie. Die dubbelontkenning is trouens Nederlandse
dialekgoed. Die voltooide deelwoord was baie gebruik (bv afgehandeld, gebeurd,
vertaald, ens). Oor die gebruik van die imperfektum
in Afrikaans (bv, koop - gekog of gekocht), het daar
twintig lange jare van diskussie gegaan, voordat dit met 'n pennestreep uit
Afrikaans geskrap was (vandag die enigste Germaanse taal sonder die
imperfektum).
|