Besoek die gespreksforum
 

ONS TAALREDDING


Daar is twee taalbewegings wat as 'n mooi voorbeeld kan dien en dit is die van Vlaandere en Quebec. Naas die invoering van die gebiedsbeginsel het Vlaandere en Quebec nog iets goeds gedoen. Vlaams het nie van Nederlands geskei nie. Quebecs het nie van Frans geskei nie, ten spyt daarvan dat daar groot strukturele verskille bestaan tussen Vlaams en Nederlands en ook tussen Quebecs en Frans (op die gebiede van die leksikon, grammatika en morfologie). Beide Vlaams en Quebecs het vasgehou aan deftige kultuurtale wat van kardinale belang was vir hulle taal en kultuurvoeding. Vir die Vlaminge en Quebeccers het hierdie taalprestige gelei tot ’n bewuste gevoel van taaltrots.

Vir die behoud van Afrikaans is die onderstaande aspekte van belang.  

Navorsers dui op die belang van ‘n "zusammenhängendes Sprachgebiet", wat die voortbestaan van ’n taal verseker. Hoe groter hierdie taaleilande, hoe sterker is die oorlewingskans van hierdie tale. Wanneer die sprekers van 'n bepaalde taal verspreid woon tussen die sprekers van 'n ander taal met 'n hoër prestige, sal die taal met 'n laer prestige al gou uitsterf. Afrikaans het nie eentalige gebiede nie en as ons dit nie kan beding nie, sal Afrikaans die pad loop van Duits, Frans en Nederlands in Amerika.

Afrikaans het van deftige Nederlands geskei. Sy kulturele en taalkundige voedingsbron is weg. Afrikaanssprekendes mis die deftige Nederlands wat belangrik is vir die ontwikkeling van taaltrots. Afrikaans het 'n groot tekort aan boeke, tydskrifte, musiek, ens, wat belangrik is vir die kultuurvoeding van die Afrikaner. Hierdie tekort word tans aangevul met Engels. Dit is besonder ironies. Engels is juis die taal wat Afrikaans bedreig.

Getalle: Afrikaans is klein. Volgens die jongste navorsing gaan 90% van die huidige tale in die wêreld binne die volgende eeu uitsterf. Die kleinstes verdwyn eerste. Wanneer ons 6 miljoen Afrikaanssprekendes ’n band smee met 16 miljoen Nederlanders, plus 6 miljoen Vlaminge, plus ½ miljoen Surinamers, staan ons sterk. Eendrag maak mag. Dit is om hierdie rede dat die band met Nederlands vir ons besonder belangrik is. 'n Aansluiting by die Nederlandse Taalunie is byvoorbeeld al 'n stap in die goeie rigting.

In Suid-Afrika leef ons in die veronderstelling dat as ons maar net Afrikaans sal bly praat, die taal nie sal uitsterf nie. Maar met hierdie berustende woorde het Duitstalige immigrante na Amerika nog duisende Duitstaliges na Amerika oorgelok - waar hul taal gekoester was in Duitstalige taaleilande met 'n volledige Duitstalige kultuurlewe. Indien alle Duitstalige immigrante hul taal sou kon handhaaf, sou daar teen 1995, ongeveer 61 miljoen sprekers van Duits gewees het op Amerikaanse bodem (of 23% van die Amerikaanse bevolking). Die Duitstalige Amerikaner moes net Duits bly praat het en sy taal sou bly lewe. Dit het nie gebeur nie. Duits was 'n minderheidstaal in 'n Engelstalige land, in afwesigheid van die gebiedsbeginsel. Hy is oorspoel. In die ou Suid-Afrika was Afrikaans 'n meerderheidstaal, maar in die nuwe Suid-Afrika is hy minderheidstaal. Hy is vandag die Duits van Amerika.

Verengelsing: Dit kan nie ontken word nie. Ons mense verengels. Afrikaans word hoe langer hoe meer gewoon 'n dialek van Engels. Die Afrikaners verengels baie vinniger as die Nederlands. As die Afrikaner van sy taal (hetsy Afrikaans, hetsy Nederlands) afgestap het, hou hy op om te bestaan.


 

Knelvrae - Herkoms van Afrikaans - Redes vir invoering van Afrikaans - Gevolge van die afskrywing van Nederlands - Taalbedreiging - Gebiedsbeginsel - Taalredding - Taalafstand    
Diglossie - Standaardtaal Dialekverhouding - Engelse Taalinvloed
 - Nederlandse Taalmonument - Nederlandse Taalunie