Besoek die gespreksforum
 

DIE GEBIEDSBEGINSEL


Die gebiedsbeginsel t.o.v. meertaligheid* is van kardinale belang vir die behoud van 'n taal. Die gebiedsbeginsel beteken dat elke taal ook 'n taalgrens het. Binne hierdie vasgestelde taalgrense word die betrokke taal erken.

Wanneer meer as een taalvariëteit binne in 'n land (of bepaalde gebied) aanwesig is, sal die variëteit met die hoogste prestige alle ander op termyn verdring (of die variëteite aan mekaar verwant is of nie). In Nederland het Randstadnederlands (hoë prestige) alle dialekte verdring tot teen die Duitse grens. In Duitsland het Standaardduits (hoë prestige) alle ander Duitse dialekte (Hoog- sowel as Nederduits) verdring tot teen die Nederlandse grens. In Frankryk het Parysse Frans (hoë prestige) alle ander verwante dialekte (Romaanse variëteite) maar ook Keltiese- en Germaanse variëteite verdring. In Brittanje het Engels die Keltiese variëteite verdring. In Amerika was talle Franse-, Duitse-, Nederlandse-, Noorse en Sweedse taaleilande. Hierdie taaleilande het in die laaste eeu verdwyn. Die taalgrens speel 'n baie belangrike rol by elke taal.

Tot die 60erjare was België en Kanada tweetalige state volgens die persoonsbeginsel t.o.v. meertaligheid. Maar in die lande het daar toe 'n proses plaasgevind wat hom al in Amerika byna afgespeel het. Die taal met die hoogste prestige het die ander tale verdring. In Vlaandere en Quebec is alarm geslaan, want die tale het ondergang in die gesig gestaar. Vlaandere en Quebec het dadelik ingegryp. Beide gebiede het oorgeskakel van die persoonsbeginsel t.o.v. meertaligheid na die gebiedsbeginsel volgens die Switserse model (een gebied, een taal). Vlaams en Quebecs was van 'n gewisse ondergang gered. Vandag gedy hierdie tale!

Was die gebiedsbeginsel toegepas in Amerika, sou die staat New York (eens Nieuw Nederland) vandag net so Nederlandstalig gewees het as Nederland en Vlaandere. Duits sou in Pennsilvanië (maar ook moontlik in North Dakota, Virginië en Maryland) ewe sterk gestaan het as in die huidige Duitstalige state in Europa.  Frans sou in die staat Louisanna ewe sterk gestaan het as in Frankryk, België, Switserland en Quebec. As die gebiedsbeginsel toegepas was in die Britse eilande, het die Keltiese variëteite daar stand kon hou. Was die gebiedsbeginsel toegepas in Frankryk sou die land vandag ´n meertalige staat gewees het, met Nederlands in die noorde daarvan.

In Suid-Afrika is die gebiedsbeginsel afwesig. Ons het die geleentheid in 1910 gehad om die beginsel toe te pas. Dit was op die besprekingstafel met uniewording. Daar is egter toe besluit om voorkeur te gee aan die Kanadese model van tweetaligheid op grond van die persoonsbeginsel. Toe die Kanadese egter in die sestiger jare oorgestap het op die gebiedsbeginsel, het ons in Suid-Afrika by die persoonsbeginsel gebly.


* Persoonsbeginsel t.o.v. meertaligheid: 'n Land erken twee of meer tale as amptelike tale. Oral in die land het die inwoners gelyke taalregte, byvoorbeeld Suid-Afrika.

 

Gebiedsbeginsel t.o.v. meertaligheid: 'n Land word opgedeel in twee of meer gebiede. Binne 'n vasgestelde gebied het slegs één taal amptelike status, byvoorbeeld Switserland. 

 

 

Knelvrae - Herkoms van Afrikaans - Redes vir invoering van Afrikaans - Gevolge van die afskrywing van Nederlands - Taalbedreiging - Gebiedsbeginsel - Taalredding - Taalafstand    
Diglossie - Standaardtaal Dialekverhouding - Engelse Taalinvloed
 - Nederlandse Taalmonument - Nederlandse Taalunie