Besoek die gespreksforum
 

TAALBEDREIGING

Studies dui daarop dat wanneer 'n persoon (of groep) die taal van 'n ander oorneem, dit ook 'n  kultuuroorname inhou. Kultuuroordrag en taaloordrag loop besonder nóú saam. Immigrantestudies is hier interessant. Immigrante met 'n kultuur wat nou ooreenkom met die in die land van aankoms, neem die vreemde taal ook die vinnigste oor. By ander immigrante duur die kultuuroordrag langsamer (en so ook taaloordrag). Immigrante vanuit Noord-Europa verengels in Amerika dikwels binne een geslag. Suid-Europeërs doen dit oor meer geslagte en ander kultuurgroepe selfs nog langsamer.

Navorsers dui daarop dat solank daar nog ´n kloof bestaan tussen twee taalgroepe, die sprekers van die een groep nog nie die taal van die ander groep sal oorneem nie. Hoe duideliker die kloof tussen "ons" en ''hulle'' hoe kleiner die gevaar van taalverskuiwing.

Vroeër het die Afrikaner Engels beskou as 'n vyandige taal. In so 'n mate dat hy die Groot Trek aangepak het en nog later in die Anglo-Boereoorlog betrokke geraak het. Die afgelope 100 jaar het die twee kultuurgroepe saamgesmelt. Boer en Brit het één geword. Twee kultuurgemeenskappe het één geword. Maar dit is onnatuurlik dat die nuwe kultuurgemeenskap twéé kultuurtale aanhou. Een daarvan word irrelevant - Afrikaans.

Die taalsituasie in België is baie anders as in Suid-Afrika. Die taal- en kultuurkloof word in België instand gebou. In België is nie tweetalige televisie, -skole, -toesprake, -tydskrifte, ens., nie. Alles in die land is of in die een of in die ander taal. Die Vlaming het inderdaad ´n taalstryd volvoer en gewen waarop hy trots kan wees (deur die invoering van die gebiedsbeginsel en die behoud van Nederlands as kultuurtaal).

Sir Ian Hamilton, wat in die eerste en tweede vryheidsoorloë teen die Boere geveg het, het by geleentheid die Engelse publiek gevra om die Afrikaner goed te behandel. Volgens hom sou die Boere en Engelse ondertrou. Hulle sou aanvanklik tweetalig wees, maar mettertyd sou die Engelse Bybel, die Engelse rolprent en die BBC, die taal van die Afrikaner verdring. 

Dat die Afrikaner al baie ver gevorder het met die proses van kultuuroordrag blyk duidelik uit die aanhaling van 'n Engelse geleerde, professor Barnouw. Hy het by geleentheid die volgende oor die moderne Afrikaner gesê: "Their outlook on life, their conceptions of the world abroad, their methods of government and business administration, their ideas of sportsmanship, even their manners and forms of social intercourse, bear the trade-mark: Made in England."

Vroeër het die Afrikaner vir sy taal- en kultuurvoeding opgekyk na Vlaandere en Nederland. Dit is nie meer die geval nie. Hy kyk vandag saam met sy Engelstalige landgenoot op na die Engelse wêreld vir hierdie voeding. Die Afrikaner het haas geen kultuur meer van sy eie nie. Kultuuroordrag is so goed as afgerond. Ons staan op die rand van taaloordrag.

 

Knelvrae - Herkoms van Afrikaans - Redes vir invoering van Afrikaans - Gevolge van die afskrywing van Nederlands - Taalbedreiging - Gebiedsbeginsel - Taalredding - Taalafstand    
Diglossie - Standaardtaal Dialekverhouding - Engelse Taalinvloed
 - Nederlandse Taalmonument - Nederlandse Taalunie