Besoek die gespreksforum
 

Gevolge van die invoering van Afrikaans as kultuurtaal en die afskrywing van Nederlands


Die afstap van Nederlands op Afrikaans as ons kultuurtaal, het ons meer verdriet gebring as heil.

In die Nederlandse taalgebied word tans ongeveer 20,000 boektitels per jaar op die mark gebring (inklusief herdrukke). 'n Vlaamse of Nederlandse biblioteek en boekwinkel staan vol Nederlandstalige werke, met 'n baie klein aantal boeke in ander tale. Dit is nie die geval in Suid-Afrika nie, inteendeel. Het ons by Nederlands as kultuurtaal gehou was alle Nederlandstalige boeke ook in Suid-Afrika vir die Afrikaner beskikbaar. Ons boeke was dan weer vir die Nederlandse en Vlaamse markte bestem, soos nog vroeg in die 20ste eeu die geval was.

Afrikaans het 'n stigmataal geword. Apartheidstaal. Het ons by Nederlands as kultuurtaal gehou was die stigmatisering nie moontlik nie, want dan was ons taal ’n internasionale taal, soos wat dit tot en met 1925 was. Die amptelike taal van Namibië sou Nederlands gewees het en nie Engels nie (Afrikaans is daar die lingua franca en Afrikaans = Nederlands).

Van die 4,000 Nederlandstalige tydskrifte sou daar ook op ons winkelrakke gepryk het, waar Engels nou heers. Dan was trouens alle Nederlandstalige kultuurprodukte uit die hele Nederlandse taalgebied (Zuid-Afrika, Vlaanderen, Nederland en Suriname) gemeengoed, soos tans vir Engels in die Engelstalige lande. Dink byvoorbeeld aan CD's, DVD's, rekenaarprogramme, rekenaarspelletjies, tv-programme, films, ens., wat in Nederland en Vlaandere in Nederlands beskikbaar is, maar wat ons in Suid-Afrika alleen maar in Engels ken.

In Vlaandere word weekliks ’n Nederlandstalige ‘top tien’ musiekprogram op TV en radio aangebied. In Suid-Afrika is dit met die skrapse aanbod van Afrikaanstalige musiek gewoon onmoontlik, maar sou moontlik gewees het indien ons by Nederlands as kultuurtaal gehou het.

Tot en met 1925 was Nederlands so deel van die Afrikaner soos pap en boerewors. Die taal was koesterend aan die hart gedruk. Ons het die Groot Trek aangepak met Nederlands as kultuurtaal en Afrikaans as omgangstaal en so ook die Anglo-Boereoorlog. Ons het trouens die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog aangepak om ons taal en kultuur te beskerm en te verdedig teen die Engelse taal en kultuur. Hierdie taal wat ons so kragdadig beskerm het, was Nederlands. Hy was van óns. Hy was eiegoed. Vandag is dieselfde taal andermansgoed. Engels, die taal waarteen ons ten stryde getrek het, is vandag half-eiegoed.

Ons taalskeiding met Nederlands hou vir ons geen verryking in nie en is 'n tragiese gebeurtenis in ons taalgeskiedenis.

 

Knelvrae - Herkoms van Afrikaans - Redes vir invoering van Afrikaans - Gevolge van die afskrywing van Nederlands - Taalbedreiging - Gebiedsbeginsel - Taalredding - Taalafstand    
Diglossie - Standaardtaal Dialekverhouding - Engelse Taalinvloed
 - Nederlandse Taalmonument - Nederlandse Taalunie