Besoek die gespreksforum
 

Redes vir die invoering van Afrikaans as kultuurtaal


Waarom het ons Afrikaans as nuwe kultuurtaal ingevoer?

Daar was ook ander volkere wat eie kultuurtale wou invoer, naamlik: Amerikaners, Vlaminge, Brasiliane, Quebeccers en Noorweërs. Wanneer 'n mens hierdie taalbewegings bestudeer, vind 'n mens ook dieselfde taalargumente as wat in Suid-Afrika aangevoer was. Ook onder hierdie volkere was daar mense wat wou gaan ''skryf soos hulle praat''. Hulle begeerte het uitgegaan na 'n eie ''inheemse'' kultuurtaal.  

Die belangrikste rede waarom ons vandag ’n taal het wat ons Afrikaans noem, lê in ons bevolkingsamestelling in Suid-Afrika. In breë kan die ondersteuners van 'n eie nuwe taal (oral ter wêreld) aan die volgende gekenmerk word: die groep is nasionalisties gemobiliseerd, laag geskoold of ongeskoold, plattelanders, arm, emosionele denkers en voorts is die groep ook geïnteresseerd in taal as simbool. Die ander pool (behoud van gevestigde kultuurtaal) is nie so seer nasionalisties gemobiliseerd nie, geskoold of hoog geskoold, vorm die elite, is stedelinge, ekonomies welvarend, rasionele denkers en voorts geïnteresseerd in taal as instrument.

Die verre meerderheid van ons Afrikaners was tot vroeg dié eeu nog arm (dink aan die armblanke vraagstuk), laag geskoold (my volk gaan ten onder weens 'n gebrek aan kennis - Paul Kruger), plattelanders en sterk nasionalisties gemobiliseerd. Die teenpool wat voorstaanders was van die behoud van Nederlands, was getalsgewys te klein om die ander pool in bedwang te kon hou. In al die ander lande waar soortgelyke taalbewegings was, was die 'geskoolde pool' sterk genoeg om die 'ongeskoolde pool' teë te hou. Dit is om hierdie rede dat die ander taalbewegings misluk het en dié van ons suksesvol was.

 

Knelvrae - Herkoms van Afrikaans - Redes vir invoering van Afrikaans - Gevolge van die afskrywing van Nederlands - Taalbedreiging - Gebiedsbeginsel - Taalredding - Taalafstand    
Diglossie - Standaardtaal Dialekverhouding - Engelse Taalinvloed
 - Nederlandse Taalmonument - Nederlandse Taalunie